My pa, Bruce, wou eens 'n ronde huis bou en ek en my broer Victor was die vanselfsprekende vervaardigers. Dit het nege jaar geneem en die ding sou nooit staan nie. Ek moes ysters saag, metale buig en sweis, asook tussendeur stillewes teken wat my ma Ansie gemerk het. Ons vyf kinders moes klassieke musiek luister, sielkunde swot (godsdiens was afwesig), baie vleis eet om lekker groot te word, oefen, hard werk, stoei, judo, karate, rugby en atletiek doen en na die weermag gaan. Dit het ek alles gedoen. Ons moes ook huiswerk doen, byt kry aan die volk – daai tyd se vaderland – die boer, segregasie en al daai twak. Dit het ek nie gedoen nie.